Gaan na inhoud

Van die ander kant van die manuskrip

Die eerste konsep behoort aan die skrywer.

Dan daag die redakteur op.

Skielik maak spelling saak.
Woordkeuse maak saak.
Logika maak saak.
Sinslengte maak saak.

En, irriterend genoeg, is die redakteur gewoonlik reg.

Susan Lucouw het met Louis S Venter deur die herskrywing van EK gewerk. Dit is waar die storie van die ander kant van die manuskrip bekyk kan word.

Redakteur se ervaring

Ja, die redakteur maak seker dat sy/hy reg is, maar ‘n goeie redakteur respekteer die stem van die skrywer.

Met die eerste paar bladsye van die manuskrip gelees, was dit duidelik: EK is nie ‘n knussie nie! En wie kan ‘n boek neersit waarin ‘n weerlose vierjarige aan die genade van die natuur uitgelewer word? Ek kon nie.

Die manuskrip was reeds goed versorg en dit was maklik om die intrige te volg. Die tema en die literêre motiewe het fyn lees en mooi dink vereis. Die leidrade word subtiel gegee maar die vraag wat heeltyd gespook het, was: Wie is eintlik die slagoffers? Die universele tema van natuur versus kultuur met ‘n stewige dosis sondebokmotief het ‘n eiesoortige loop geneem. Ek was gou vasgevang in die karakters se vrot keuses, selfgesentreerde besluite en handelinge teen die agtergrond van die loop en die hart van die gereg. Hoewel ek besef het dat ons moes waak teen stereotipering, was al die elemente van Suid-Afrikaanse historiese werklikheid onvermybaar. Erfreg. Seks. Geloof of gebrek daaraan. Geborgenheid en verwerping.

Dit was van meet af aan duidelik: Louis het die bou van sy debuutroman uitstekend beplan en sorgvuldig uitgevoer. Te gou was ek by die slot – en ontevrede. Jy kan nie hier stop nie, Louis! Die skrywer het voet by stuk gehou: Hierdie distopiese verhaal sou voortgesit word in Holkrans, die tweede boek in sy beplande trilogie. Saam met al die oopkop, denkende lesers wat EK laag vir laag gaan afskil, moet ek ook nou wag en wonder oor die sondes van die vaders.

Dit was lekker om deel te wees van die vormgewing van ‘n talentvolle nuwe skryfstem se werklikheid: sy eerste roman.