Gaan na inhoud

Die skrywer se perspektief

Wie wil ’n boek skryf? Baie mense. Wie doen dit uiteindelik? Drie persent van diegene wat die reis aanpak. Skryf is ’n intellektuele hinderniswedloop. Dit is ’n eensame onderneming, vol selftwyfel, innerlike geraas en vrees.

Waar kom ons stories vandaan?

As skrywers duik ons diep in ons onderbewuste in, op soek na temas en storielyne wat die moeite werd is om neer te skryf. Dis soms maar ’n gevaarlike ding om te doen. Jy weet nie altyd lekker wat daar vir jou wag nie. Vir my was die skep uit die eindelose reservoir van verhale wat in my onderbewuste leef – dieselfde plek waaruit al daardie vreemde en wonderlike drome kom wat ons die meeste aande geniet – ’n baie moeiliker proses as wat ek my ooit kon voorstel. Dit was ’n konfrontasie.

Eers toe ek ’n vlak van volwassenheid bereik het waar ek myself eenkant kon skuif, kon ek die storie toelaat om homself te vertel. Ek moes uit my eie pad tree om EK te kon skryf. Dit het my in staat gestel om die storie, die karakters, hul diepste gedagtes, sowel as hul goeie en slegte kante raak te sien.

Dit het my beslis gehelp om die verhaal te anker in ’n plek en tyd wat vir my bekend is. Ek kan ’n plaas in die Oos-Vrystaat, ’n hofsaal in Bloemfontein sien, en die paaie tussen hulle visualiseer – en uiteindelik ’n storie met diepte in hierdie ruimte en tyd plaas.

Ons beperkinge

Daar is dinge wat ek nie is nie. Ek is nie ’n swart plaaswerker nie. Ek is nie ’n moedertaalspreker van Sotho nie, en ek het ook nie grootgeword met ’n kennis of begrip van die Sotho-kultuur nie. Daardie aspekte het navorsing vereis.

Ek is ook nie ’n vrou wat onderwerp word aan ’n ingeburgerde kultuur van seksuele misbruik nie.

Om hierdie kwessies as ’n wit, middeljarige Suid-Afrikaanse man aan te spreek, was vir my ’n ontsagwekkende taak. Dit het vereis dat ek op ’n manier ’n neutrale ruimte moes vind om toe te laat dat die karakters deur my praat.

Dilemma – ’n skrywer se beste vriend

Meeste verhale vereis ’n dilemma. Die oppervlakkige dilemma in EK is dat die hoofkarakter vasgevang is in ’n motor in die oënskynlik verlate veld van die Oos-Vrystaat.

Sy ma se selfmoord hou hom fisies gevange, maar hy is ook vasgevang in ’n dieper dilemma – ’n sosiale konteks. Dit is ’n sosiale omgewing wat vrae laat ontstaan oor wie hy is, wat hy is, waar hy hoort en watter norme op hom van toepassing is.

As skrywer bied ek hoegenaamd geen antwoorde nie – ek het eenvoudig geen antwoorde om te bied nie.

Die skryfproses

Om ’n roman te skryf is waar volkome intellektuele vryheid, uiterste presisie en dissipline ontmoet. Die vrye vloei van ’n skrywer se denke word vasgevang in woorde, sinne, paragrawe, bladsye en hoofstukke. Dit moet ’n begin hê, en dit moet ’n einde hê. Daarna moet dit herskryf, geredigeer, herskryf, geredigeer, geset, herskryf, geredigeer en geset word.

Om ’n kind te verwek, vereis passie en ’n tikkie romanse, maar die geboorteproses is moeilik; die ware waarde lê daarin om die kind ywerig en geduldig groot te maak totdat dit onafhanklik van sy skepper kan bestaan.

Dit is in daardie gees dat ek EK aan jou, die leser, oorgee.